Seun beseer in ongeluk, ma beskryf haar angs

Gert Maree (20) is Vrydagmiddag in ‘n ongeluk beseer.
Gert Maree (20) is Vrydagmiddag in ‘n ongeluk beseer.

Na die oproep het Zelda Maree (52) ‘n hele rits onaangename gebeurtenisse beleef, maar ten einde laaste het die nagmerrie darem ‘n goeie einde gehad.

Zelda vertel dat haar selfoon Vrydag om ongeveer 2.20nm gelui het.

“Dit was ‘n vreemde nommer en ‘n vreemde stem,” het Zelda vertel.

”Die persoon aan die anderkant het vir my gesê dat my kind, Gert Maree, in ‘n ongeluk was.

“Ek het dadelik in my voertuig geklim en na die ongelukstoneel, op die hoek van Springs- en Farquharsonweg gejaag.

”My hele liggaam het gebewe, elke robot was rooi, niemand wou vir my spasie maak om verby hul te ry nie.

“By die toneel het ons kind nog in die pad gelê.”

Volgens Zelda is hy blykbaar deur ‘n persoon in ‘n wit Mazda van agter teen sy motorfiets gestamp.

“My eerste onaangename ervaring was die ambulansmanne wat gestry het oor wie eerste op die toneel was; eers toe ek begin foto’s neem het hulle gekalmeer,” het sy gesê.

“Intussen het my kind in die pad gelê en bloei.

“By die hospitaal, waarheen hy geneem is, word ek weer ontnugter. Ons moes eers vorms invul en betaal voor hulle na ons kind sou kyk.

“Hy word toe ondersoek en kry steke aan sy kop. Dit was egter nodig vir ‘n CT-skandering, aangesien daar bloed by sy oor uitgeloop het.

“Die derde probleem tref ons toe. Die hospitaal het op daardie stadium gebruik gemaak van noodkrag, aangesien sekere dele van die dorp se krag Vrydagmiddag af was.

“Verder moes ons hoor dat die metro blykbaar nie dadelik aandag kon gee aan die kragprobleem nie, aangesien dit gereën het; nog ‘n stuikelblok op ons pad.

”Na ‘n baie lang gewag het ons geen ander keuse gehad as om ons kind na die Verre-Oos Rand Hospitaal te neem nie. Dié reeling is deur my man, Gert (56), en ‘n dokter getref.

“Vir die soveelste keer die dag het my keel toegetrek, want ek het al soveel stories gehoor van dié plek, maar, vir die eerste keer in ‘n paar ure was ek verras en verbaas. Daar was geen bloed teen die mure en op die vloere, soos die mense gereeld sê, nie.

“Die personeel was op hul plek en het ons met die vorms gehelp. Twee ure later is alles gedoen. Die plek is nou wel nie ‘n vyf ster nie, maar die diens was beslis.

“My kind leef. Hy is wel vol blou kolle, het ‘n seer lyf, harskingskudding en is vol pyn, maar hy sal gesond word.

“Sy beskermengel het beslis nou ‘n vakansie nodig.”

Lees ook:

Kind se hand oopgeruk toe vuurwerk dit tref

Latest News

benonicitytimesboksburgadvertiserspringsadvertiserafricanreportergetit looklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top